Welkom

NG Kerk Montana is nie net ‘n plek van aanbidding nie maar ook ‘n geloofshuis, ‘n tuise vir jou siel. Ons deure is oop vir almal, jonk, volwasse en afgetree. Of jy nou ‘n leier in jou gemeenskap is of net iemand wat ‘n bietjie rus of bemoediging soek, ons is hier vir jou.

Buiten vir ons Godsgeïnspireerde preke elke Sondag, bied ons ook die volgende:

Vir die jeug en jongmense:

Vir volwassenes en gesinne:

Vir die senior lidmaat bediening:

Kom maak jouself tuis.

Om aan te sluit by enige van hierdie aktiwiteite kan jy:

Nuwe intrekkervorms, doopvorms, debietorders en navraagvorms is beskikbaar by Algemene Inligting asook Inligting Kiosk.

Ikone se Storie

Verhoudings wat omgee en saakmaak, beteken opregte omgee, hegte emosionele bande, positiewe kommunikasie en die ruimte om jouself te wees. Geloofsvorming vind die beste binne langtermyn- en hegte verhoudings plaas. Binne sulke verhoudings vind mense ‘n veilige ruimte waarbinne hulle leef, ontdek, modelleer en groei.

Ons gemeente is ernstig daaroor om verhoudings te bou en seker te maak dat elkeen in die gemeente ervaar dat hy/sy belangrik is vir die welwese van die gemeente. By ons jongmense vestig ons juis binne die kleingroepe die geleentheid dat geloofsoordrag binne ‘n verhouding met ‘n mentor plaavind.

Verhoudings is ook waar mense geborge voel. Dit is die enigste veilige ruimte waar jy jou emosionele menswees vryelik kan uitdruk, sonder enige vooroordeel. Vanuit ons verhoudings met mekaar vloei ‘n omgee en deernis waar die dra van mekaar se laste (en vreugdes) natuurlik is.

Omdat ons verhoudings sonder enige vooroordeel is, is enige iemand, ongeag taal, kleur, geslagtelike oriëntasie, status, ouderdom, of geestelike vaardigheid by ons welkom. Ons voorbeeld, inspirasie en opdrag kom van Jesus Christus wat gese het: “Julle moet mekaar liefhe soos Ek julle liefhet.” ~ Johannes 15:12

Op die lewensreis wat mense van kindwees tot op hulle oudag onderneem, gaan hulle deur verskillende lewensoorgange. Elke jaar se verjaardag, is dalk een van die belangrikste merkers wat die aanbeweeg in mense se lewens aandui, daar is egter ook baie ander: jong mense vier graag die datum waarop hulle verhoudings begin het; ‘n eerste skooldag van groot skool of hoërskool; matriek; volwassewording op 18; ‘n bestuurslisensie en so meer.

Volwassenes het ook herdenkings: huweliksdag; geboorte van kinders; ‘n nuwe werk; eerste huis; akademiese prestasies; werksbevordering; en later selfs aftrede; grootouers word; verhuising en so meer. Ons wil graag lidmate se herdenkings, prestasies en lewensoorgange saam met hulle feestelik vier.

Daar is ook die besondere geloofsmomente wat ons saam kan vier. Die doop van ‘n kind, waar die gemeente aktief by betrokke is, Belydenisaflegging en natuurlik die nagmaal.

In ons gemeente is die Paassiklus ‘n geloofsfees met die Paassangdiens as ‘n belangrike feesgeleentheid, maar so ook Paasnaweek en al die eredienste daarvan. Kersfees met die Kerssangdiens as afskop is die ander groot fees wat ons vier.

Hoewel al die vieringsgeleenthede feestelik en met rituele en tradisie ingekleur word, is die ook identiteitvormend vir die gemeente.

Deur Aanbidding wat leef vanuit die erediens en ons gebedslewe, groei ons. Die erediens op ‘n Sondag is die sentrum van ons aanbiddingslewe en rus ons toe om ons geloof te bely en uit te leef. Aanbidding in ‘n erediens (en eintlik op enige plek) is Bybels ge-oriënteerd en gaan van ons breë gereformeerde belydenis uit. Ons verhouding met God en die genadeverbond (Gen 17:7) wat dit definieer, is ons vertrekpunt. As volk van God is daar eenheid in ons saamwees voor God, veral in ‘n gemeente.

As deel van God se volk het ons gemeente tog ook ‘n eie identiteit en karakter en is lidmate met God en met mekaar in verhouding, en deel in God se goedheid en genade wat in Christus ons s’n geword het (1 Petrus 1:3).

Daarom is dit vir ons belangrik om elke erediens en enige byeenkoms intergeneratief in te kleur, maar ook voorsiening te maak vir mense se verskillende spiritualiteite. Dus is nie twee eredienste se liturgiese inkleding dieselfde nie. Die bediening aan gesinne is deel van die aanbiddingsproses en die uitdagings daarvan word met groot sensitiwiteit ge-akkommodeer.

Die sang- en musiekbediening in die gemeente is inherent deel van die aanbiddingsproses. Met orrel en ander musiekinstrumente word die gemeente begelei tot ‘n lofgemeenskap wat met musiek die Here loof en prys. Liedere wat die atmosfeer van ‘n erediens bepaal, word juis sorgvuldig so gekies, dat die tema van die diens daarmee gekomplimenteer word, en dit kan van klassiek tot ligte geestelike musiek insluit.

Gebed – In die algemeen dink mense gebed is om te vra en dit is natuurlik deel van gebed. “Bid, en vir julle sal gegee word…” (Luk 11:9). Gebed is ook om in te tree vir, dit is om met God te praat oor die stand van sake, om soos ‘n Abraham van ouds met God te praat oor sy besluite, en te vra of dit nie miskien anders kan gebeur nie, soos ons dit in Genesis 18-19 lees. Daarom is gebed ook voorbidding en intersessie.

Aanbidding en gebed is nie twee entiteite nie, dis eintlik dieselfde! Beide wil die diepste van ons verhouding met God uitbeeld en in beide is ons inherent deel daarvan. In Montana is elkeen welkom om te deel in ons aanbidding, enige tyd!

Om te leer is vir niemand regtig lekker nie. Die resultaat van wat ons geleer het, verryk egter ons lewens vir die duur daarvan. As mense maak ons ook baie foute – en sê maklik dat ons uit ons foute sou leer, maar ons is so blind vir ons eie tekortkominge, en verlies aan kennis, dat ons in die gewoonte verval om ons foute gedurig te herhaal. Ons is dus nie ons eie beste leermeesters nie, ons het ‘n beter leermeester nodig.

Ons is geroep om reg te leef tot eer van God. Daarom moet ons heel eerste by Hom leer. Die Bybel is ons amptelike padwyser om ons hiermee te help. Boonop is God se Woord ‘n beter leermeester as ons foute. God se woord is die lig op ons lewenspad en die lamp vir ons voete soos wat Psalm 119 sê. In die Bybel leer ons wat reg is en ook hoe om dit te doen. Dan hoef ons nie eers iets verkeerd te doen voordat ons uit ons foute moet leer nie. Dan doen ons uit die staanspoor wat reg is volgens die Woord. En as ons die slag droogmaak, dan volg ons ook die Skrif se roetewysers deur dit met berou aan die Here se voete te gaan neerlê en dit daar te laat staan.

Saam met die Woord het ons ook ‘n lewende Leermeester wat ons in die volle waarheid lei – die Heilige Gees. Hy lei ons binne God se wil. Hyself oortuig ons wat die regte pad is en Hy sorg dat ons nie aanhoudend ons tone teen dieselfde klippe stamp nie. Die Gees maak dit wat Hy by Christus hoor aan ons bekend. So leer Jesus vir ons in Johannes 14 en Johannes 16. in die woorde van 2 Korintiers 3 gebruik die Gees ons harte as sy nuwe skryfpapier. Hy maak ons van binne af nuut. Nou kan koersvas op die Here se pad volhard, mits ons leerbaar bly en met oop ore deur die lewe gaan.

Jesus is nie slegs die grond vir die diens nie en gee nie alleen die opdrag tot diens nie, maar is tegelyk die voorbeeld vir alle diens. Van Homself en Sy werk sê Hy: “So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense” (Matt 20:28).

Diens se basis le in dankbaarheid. Dankbaarheid vir God se versorging, dankbaarheid vir Jesus se offer, dankbaarheid vir ons geleentheid om as instrumente in sy groot plan Sy hande en voete te kan wees.

Ons leef in ‘n wêreld waar daar uit alle oorde ‘n geroep van mense in hulle nood opgaan. Die nood is oral in die wêreld, maar net so ook in die kerk. Die nood het baie vorms; dit is materieel, sosiaal, sielkundig en geestelik. Ten diepste is die nood die verlorenheid van die mens voor God, die gebroke verhouding tot Hom.

Uit hierdie een nood vloei vele ander. God wat barmhartig is oor alle mense, veral oor die geringe, verdrukte en verontregte; Christus wat vir die verlorene gesterf het en wat ons roep om sy hulp en bystand teenoor ander uit te dra, skakel sy kerk en elke gelowige in by hierdie diens aan die naaste en aan die medegelowiges. 

So is elke gelowige geroep om te lewe as ‘n lewendige getuie vir Christus wat met woord en daad ‘n verkil in die wêreld moet maak. Die werklikheid van die lewe het ons egter geleer dat hulle wat met hulle omgee, vashou, uitdeel, ophelp, saamloop, saam bid, saam huil, die het grootse verkil in die wêreld gemaak!